Studies in Afrikaans / Studies in English
Waarom Gee?
Waarom ondersteun Christene sendingwerk en bedieninge finansieel?
- 'n reeks deur Fanie Loots -
Waarom is dit so dat Christene die kerk, bedieninge en sendingwerk moet ondersteun sodat hulle finansieel kan oorleef en floreer? Moet die leierskap nie "net bid" nie? Oor die volgende paar maande wil ek 'n paar kort antwoorde op hierdie vraag gee.
Deel Een - Die voorbeeld van die Ou Testament
As jy 'n studie van die hele Bybel maak, en veral van die Ou Testament, sal jy vind dat wanneer God ook al iets gedoen wou hê, Hy mense geroep het om dit te doen (profete, rigters, ens.). Hierdie mense wat God se roeping aanvaar het, hetsy om die tempel te bou of die muur te herbou, het toe nie "net gebid" nie - hulle het ook gebid! In al die gevalle het hulle na God se mense toe gegaan om God se hulpbronne te kry om God se wil te doen. God se mense het met oorgawe en vol vreugde gereageer en die werk gedoen gekry.
Dit is vandag glad nie anders nie. God roep individue, groepe en organisasies om sy wil te doen. Hy gee aan hulle 'n taak en 'n visie en verwag van hulle om biddend op Hom te steun. God druk egter nie geld of Bybels in die hemel nie. Hy stuur sy diensknegte na sy mense toe om sy hulpbronne te kry om sy werk te doen. Jou rol hierin is onmisbaar. Om te erken dat 'n bediening of sendingwerk 'n "God-ding" is - wat God se wil doen - en om daarby aan te sluit om dit bewerkstellig, is 'n vreugdevolle ervaring. Om deel te wees van die verwesenliking van God se planne op aarde, bring vervulling mee en gee sin aan die ure van harde werk wat ons elke dag doen.
Mag God jou seën terwyl jy sy werk op aarde ondersteun.
Deel Twee - Die voorbeeld van Jesus
Het jy al ooit die bediening van Jesus vanuit 'n finansiële perspektief beskou? Vir drie jaar het Hy van dorp tot dorp gereis, gepreek, gesond gemaak en die koms van die Koninkryk van God aangekondig.
Sy geselskap het uit minstens 12 bestaan. Ons lees dikwels van ekstra vroue en soms van baie dissipels in sy groep. Hulle moes elke dag eet en het ook ander uitgawes gehad. Hulle het tolgeld en belasting betaal. Judas het die beursie gedra (Johannes 13:29).
Waar het die geld vandaan gekom? Ons het 'n voorbeeld in die wonderwerk van die vermeerdering van voedsel vir 'n groot skare, maar normaalweg is voedsel voorsien deur mense wat hulle ontvang het of hulle het voedsel gekoop.
Lukas 8:1 - 3 openbaar 'n baie interessante aspek van die bediening van Jesus. Dit vertel van minstens drie vroue, wat van bose geeste en siektes genees is en wat saam met Jesus gereis het en voorsien het wat nodig was. Vers 3b sê: "Hierdie vroue het uit eie middele vir Jesus en die twaalf gesorg."
Jesus kon sekerlik die Vader gevra het en God kon baie meer muntstukke in die monde van visse geplaas het soos Hy een keer gedoen het. Of Hy kon daagliks manna gestuur het of net vermeerder het wat byderhand was - maar Hy het nie. Mense - gewone vroue - het gegee, die dissipels het voedsel gekoop en Jesus het die Vader gedank. Hy het 'n voorbeeld gestel van hoe bedieninge en sendingaksies sou funksioneer. Gewone mense - mense wat dankbaar is vir wat God vir hulle gedoen het - gee sodat God se werk op aarde gedoen kan word. God betrek al sy kinders - diegene wat Hy roep om die werk te doen en diegene wat Hy roep om die middele te voorsien.
Is jy dankbaar vir jou verlossing? Genesing? Voorsiening? Gee met 'n dankbare hart sodat God se werk op aarde uitgevoer kan word.
Deel Drie - God se Ekonomie
Oor die afgelope paar maande het ons gekyk waarom Christene die kerk, bedieninge en sendingwerk moet ondersteun. Ons het in die eerste les ontdek dat God se diensknegte deur die hele Bybel na God se mense toe gegaan het om God se hulpbronne te vra om God se wil te kan doen. In die tweede deel van die reeks het ons gesien dat Jesus en sy dissipels finansieel ondersteun is deur dankbare vroue wat deur God aangeraak is.
Nou wil ek kyk na God se ekonomie. Die Bybel sê “want al die diere in die bos is Myne, die wild op duisende berge” (Psalm 50:10). Alle dinge behoort aan God, selfs die beeste op duisende heuwels. Tog is elkeen van hulle in iemand op aarde se naam geregistreer. God se hulpbronne is nie afsonderlik van die wêreld se ekonomie nie. God se hulpbronne is onder al sy kinders verdeel.
God het nie spesiale OTM'e waar sendingagentskappe kan gaan geld trek nie; Hy druk nie Bybels in die hemel en stuur dit dan met valskerms hierheen nie; Hy stuur nie vir ons tjeks wat deur Jesus onderteken is nie. Nee, God roteer hulpbronne onder sy kinders. Hy voorsien en Hy toets ons. Wanneer ons oorvloedig gee, vul Hy aan en voeg meer by - nie net om ons te seën nie, maar om ons in staat te stel om meer te gee. Met ander woorde, ons word geseën om 'n seëning te wees.
Soms ly Christene en stort bedieninge in duie - nie vanweë 'n gebrek aan gebed of geloof nie, maar omdat diegene wat God geroep het om te gee, ongehoorsaam was. As ons selfsugtig vasklou aan dit wat in die eerste plek nie regtig ons s'n is nie, verhinder ons die uitbreiding van God se koninkryk op aarde en verhoog ons die lyding van diegene wat min of niks het nie. “Julle het dit verniet ontvang, gee dit ook verniet” (Matteus 10:8) en jy sal verstom wees oor wat God jou sal gee - nie vir persoonlike welvaart nie, maar om die koninkryk se werk 'n werklikheid te maak.
Deel Vier - Persoonlike Rentmeesterskap
Verlede maand het ons God se ekonomie kortliks beskou. Die feit dat Hy alle dinge besit en dat Hy sy hulpbronne onder sy kinders verdeel.
Vanuit ons perspektief moet ons die aanstelling as God se rentmeesters op aarde aanvaar. Met ander woorde, ons is God se geldbestuurders. Hy voorsien ons van werk en die vermoë om te verdien en om welvaart te skep. (Deut 8:1718 “Jy kan dalk dink: my krag en my sterk hande het vir my hierdie rykdom verwerf. Maar jy moet die Here jou God nie vergeet nie, want dit is Hy wat jou die krag gee om die rykdom te verwerf.”) Hy seën ons oorvloedig met sy hulpbronne; nou verwag Hy van ons om hierdie hulpbronne met wysheid en met sy belange op die hart te bestuur.
Ons moet aanvaar en glo dat alles wat ons besit eintlik syne is en dat ons die verantwoordelikheid ontvang het om sy hulpbronne op so 'n manier te deel en te versprei dat sy koninkryk uitgebrei en sy kinders versorg word.
Wat 'n verantwoordelikheid! Wat 'n voorreg! Wat 'n bediening! God verryk ons in sy plan om die wêreld te wen en sy kinders te versorg. Om goeie rentmeesters te wees moet ons bewus wees van die geleenthede om 'n verskil te maak en ons moet sensitief wees vir die leiding van God se Gees. Ons kan nie aan elke organisasie of elke sendingaksie gee nie. Ons het ook 'n verantwoordelikheid teenoor die plaaslike kerk. Hier lê die uitdaging: Aanvaar dat alles wat jy is, alles wat jy weet, alles wat jy besit aan God behoort. Streef aktief daarna om jou roeping as 'n rentmeester van God se hulpbronne, d.w.s. jou tyd, talente en rykdom, uit te leef. Soek God se leiding en wysheid. Gee oorvloedig met 'n blymoedige hart.
Deel Vyf - Terreine van Gee
Verlede maand het ons gekyk na persoonlike rentmeesterskap: Die feit dat God ons aangestel het om die bestuurders van sy hulpbronne op aarde te wees. My tyd, talente en geld behoort alles aan Hom en moet gebruik word om sy wil op aarde te doen.
Die vraag is aan wie om te gee. Daar is soveel versoeke, soveel verdienstelike sake, soveel hartverskeurende stories. Dit is moeilik om te kies.
Hier is 'n Bybelse riglyn. In die Skrif is daar deurgaans basies vyf terreine van gee:
1. Die kerk - jou plaaslike gemeente
2. Die Groot Opdrag - sending en bedieninge
3. Christen-weduwees en -weeskinders
4. Christen-armes
5. Armes in die algemeen
Ter opsomming moet ons vir ons kerk, bedieninge, sendingwerk en liefdadigheid gee. Hoewel liefdadigheidsorganisasies goeie werk doen, is ek geneig om hulle te vermy al is hulle werk hoe belangrik, tensy hulle ook die evangelie verkondig of geloofsgebaseerde liefdadigheidswerk doen. Die rede hiervoor is dat hulle toegang het tot fondse deur die regering, die korporatiewe wêreld en ander middele (soos die Lotto) wat Christen-gebaseerde werk nie het nie.
Goeie en wyse rentmeesterskap probeer om die werk van God plaaslik te ondersteun en om die Koninkryk uit te brei. Dit sluit die versorging van weduwees en weeskinders en arm mense in. Om vir Bybels te gee, voldoen aan al hierdie kriteria. Dit bou plaaslike kerke, seën arm gelowiges en help om die koninkryk van God uit te brei: help mense om dissipels te word en nie bloot bekeerlinge te bly nie.
Deel Ses - Persoonlike Seën
In hierdie aflewering van die reeks oor Christene wat vir die kerk, sendingwerk en bedieninge gee, wil ek 'n onteenseglike feit bespreek. Wanneer jy gee, word jy geseën.
Jesus het gesê: “Om te gee, maak 'n mens gelukkiger as om te ontvang" (Handelinge 20:35). Hierdie seën is verstandelik, geestelik, liggaamlik en ewigdurend.
Net die wete dat ek doen wat God van my vra, bring gemoedsrus. Wanneer ons gee, is ons gehoorsaam en dit bring 'n gevoel van vervulling. Om 8 uur per dag te werk, verkry 'n groter betekenis as bloot om kos op die tafel te sit wanneer ek besef dat God my inspanning gebruik om hulpbronne te skep wat ander sal seën en mense na Christus sal bring.
Gehoorsaamheid het 'n aantal geestelike voordele vir die gelowige, veral wanneer die motief liefde is. Johannes 15 wys vir ons hoe liefde en gehoorsaamheid vrugte oplewer as ons in Christus bly.
God voorsien weer vir ons, seën ons en laat ons toe om weer deel te neem aan sy werk wanneer ons gee. Hy seën ons om 'n seëning te wees en ons sien die uitwerking van liefdevolle gehoorsaamheid op 'n praktiese wyse.
Daar is ewigheidswaarde in die ondersteuning van die werk van God. Ons “bou skatte in die hemel op” wanneer ons op aarde gee. Elke skenking is 'n belegging met 'n enorme opbrengs in die ewigheid. God het dit belowe en Hy sal dit doen.
Gee en wees geseën.
Deel Sewe - Waarom per debietorder gee?
Skenkings van enige aard of op enige wyse word baie waardeer. Van tyd tot tyd sal jy egter opmerk dat ons mense aanmoedig om per debietorder te gee. Dit is hoekom:
Deur jouself op papier te verbind, maak jy in werklikheid 'n belofte en toon jou erns om dit na te kom. 'n Debietorder help JOU om jou belofte na te kom en jy hoef nie op jou geheue staat te maak nie. Dit help met ander woorde met finansiële dissipline.
Debietorders bly die veiligste manier van gee en help jou om beter te begroot. Dit help jou ook wat jou rentmeesterskap betref en verhoed dat jy van een nood na 'n ander spring - dit voorsien dus sekuriteit aan die projek wat God op jou hart gelê het. Dit help jou om rekord te hou van jou skenkings.
Debietorders help ONS om te beplan en te begroot. Ons kan ons Bybelaankope en aflewerings beter beplan en ons het 'n idee van hoe die bediening groei.
Ons onderneem om die debietorder op jou versoek te beëindig. Solank jou versoek 11 dae voor die loopdatum ontvang word, kan ons dit kanselleer. As ons iewers 'n fout maak, betaal ons altyd die bedrag terug wat verkeerdelik afgetrek is.
Die keuse is joune: of jy jou skenking per pos wil stuur, by die bank wil deponeer, 'n internetoordrag wil doen, 'n aftrekorder by jou bank wil begin of 'n debietorder wil teken, ons waardeer jou skenking.
Deel Agt - Boedelbeplanning en die Koninkryk van God
- Finansiele beplanning vir gelowiges
- Rentmeesterskap
- Die belangrikheid van 'n testament
- Boedelbeplanning
- Wie moet by jou boedel baat?
- Getroudes
- Afhanklike kinders
- Voorsien in behoeftes, nie geldgierigheid nie
- Voorsiening vir God se werk op aarde
- Wat kan ek aan 'n bediening nalaat?
- Benefits
- Wat moet ek doen om 'n bediening in my testament in te sluit?
- Voorbeeld van 'n Kodisil
- Maak dit Wettig
Finansiele beplanning vir gelowiges
Dit is noodsaaklik dat Christene slim moet wees wanneer hulle met geld werk. Dit is ook belangrik om vir die toekoms te beplan en te dink: “Wat sal met my boedel gebeur wanneer ek weg is?”
Laat ek van die begin af sê dat ek nie ’n finansiële adviseur is nie en geen geregistreerde kwalifikasies het nie. Jy wil dalk ook eers met ’n Christen finansiële adviseur gesels voordat jy reageer op wat ek sê. Wat ek hier deel, is goeie gesonde verstand en wat ek glo die Bybel oor die onderwerp leer.
Rentmeesterskap
Een van die grootste ontdekkings wat jy kan maak, is dat God die eienaar van alle dinge is. As Christene is ons aangestel om God se hulpbronne op aarde te bestuur – tot die verheerliking van sy Naam en die uitbreiding van sy Koninkryk. In hierdie proses voorsien God vir my gesin; vir die armes en behoeftiges; Hy finansier sy werk op aarde en voorsien vir die uitvoering van die Groot Opdrag. Dit is waarom ons gee. As sy bestuurders moet ons sensitief wees vir sy Gees en verantwoordelik en wys in ons besluitneming. Ons gawes moet gegrond wees op sy wil en nie op ons eie passies nie. Ons moet vrygewig wees met God se hulpbronne en gewillig om gerief op te offer ter wille daarvan om God se sake gedoen te kry.
Baie gelowiges is goeie rentmeesters terwyl hulle leef, maar tog dink hulle nie daaraan om ’n blywende erfenis na te laat wanneer hulle sterf nie. Sommiges het nie eens ’n testament nie. Min laat enige van God se hulpbronne na om God se werk te bevorder.
Die belangrikheid van 'n testament
Rentmeesterskap impliseer beplanning. Goeie rentmeesters leef nie bloot reaktief nie, maar dink en beplan strategies sodat God verheerlik kan word en daar voorsiening gemaak word vir hul gesinne.
Om ’n testament op te stel is ’n produk van goeie rentmeesterskap. As rentmeesters beplan ons ook vir die versorging van ons geliefdes – ons begroot, spandeer wys en spaar. Om ’n testament op te stel beteken beplanning wat verder strek as hierdie maand se behoeftes. Om ’n testament op te stel beteken dat duidelike, behoorlike instruksies gelaat word vir diegene wat agterbly, sodat jou beoogde doel bereik kan word.
’n Testament is ’n baie persoonlike dokument en moet versigtig oorweeg word met inagneming van al die fasette van jou lewe – jou finansies, gesin en die Koninkryk van God.
’n Geldige testament bring ’n geordende stand van sake teweeg. Dit stel diegene wat jou boedel hanteer in staat om vinnig en maklik deur die besonderhede te werk. Dit verwyder dubbelsinnigheid, dit stel geliefdes vry van die las om besluite te neem wat families kan verdeel en diepe ongelukkigheid kan veroorsaak.
Boedelbeplanning
As ’n goeie rentmeester van God se hulpbronne op aarde moet jy tyd neem om te bid, na te dink, te beplan en neer te skryf wat met jou aardse besittings moet gebeur as jy dood is en jy hulle nie meer kan bestuur nie. In sommige gevalle is dit ’n oordrag van verantwoordelikheid aan iemand anders om die hulpbronne – of deel van die hulpbronne – te bestuur tot verheerliking van God.
Boedelbeplanning is meer as die opstel van ’n testament. Dit behels ’n eerlike beskouing van jou huidige bates en laste, met inagneming van jou polisse, lewensversekering en ander bates. Dit is ’n hersiening van jou verpligtinge en skuld. Dit neem verantwoordelikhede teenoor ’n oorlewende eggenoot, kinders of ander familielede in ag. Jy moet bewus wees van die belastingimplikasies van jou boedel vir diegene wat bevoordeel word. Ek raai jou sterk aan om ’n gelowige te nader wat gekwalifiseerd is om jou te adviseer terwyl jy jou boedelbeplanning doen.
Wie moet by jou boedel baat?
As jy deur jou hele lewe voortdurend goeie rentmeesterskap toegepas het, sal dit nie te moeilik wees om hierdie vraag te beantwoord nie. Jy sal reeds jou onmiddellike gesin en diegene wat God op jou hart plaas, versorg en God se werk op aarde ondersteun. Hier is ’n paar riglyne:
Getroudes
Dit is belangrik dat albei lewensmaats ’n eie testament het of dat julle ’n gesamentlike testament het. Die oorlewende eggenoot moet op ’n toereikende manier baat. Jy moet jou eggenoot sover moontlik nie met finansiële probleme agterlaat nie.
Afhanklike Kinders
As ouer moet jy in jou beplanning voorsiening maak vir afhanklike kinders. Dit sluit die keuse van ’n toepaslike persoon of persone in om jou kinders te versorg as daar geen oorlewende eggenoot is nie.
Voorsien in behoeftes, nie geldgierigheid nie
Wanneer jy ander spesiale mense in jou lewe oorweeg, met inbegrip van volwasse kinders, is dit belangrik om in behoeftes te voorsien in plaas daarvan om oordaad te voorsien. Jy moet daaraan dink of ’n erflating die persoon sal help of belemmer, ’n seëning of ’n las sal wees. Baie erflatings is al verkwis omdat diegene wat dit ontvang het, geen idee van rentmeesterskap het nie.
Voorsiening vir God se werk op aarde
Baie kerke en sendingorganisasies en sendelinge het in die verlede al finansiële probleme ondervind wanneer een van hul vennote sterf. Skielik hou die gereelde skenking op. Of jy ’n klein of groot bedrag gee ter bevordering van God se werk, dit maak altyd ’n verskil en dit sal gemis word. Soms kan die verlies van jou skenkings ’n bediening ernstig beïnvloed en selfs veroorsaak dat dit probleme ondervind.
Daarteenoor kan beplanning om iets na te laat aan die bediening van jou keuse ’n groot positiewe invloed hê. Ouer bedienings wat reeds lank bestaan, vind dikwels dat ’n groot persentasie van hul jaarlikse inkomste erflatings is van vennote wat die bediening jare lank ondersteun het. Dikwels word groot kapitaalprojekte befonds deur die goedhartige erflatings van bedieningsvennote. Die nalaat van ’n eiendom of ander bates aan ’n bediening kan die verskil tussen sukses en mislukking vir ’n groot projek beteken.
Evalueer weer die behoeftes van diegene wat jy oorweeg – geliefdes ingesluit. Sal dit ’n groot verskil maak as jou getroude kinders slegs 80% van jou boedel in plaas van 100% ontvang? Hoekom neem jy nie ’n bediening as een van jou “kinders” aan en laat hulle gelykop erf nie?
As jy geen begunstigdes het nie – geen eggenoot of kinders nie – oorweeg dit asseblief om jou hele boedel aan ’n bediening van jou keuse na te laat. Soms hoor ons van God se kinders wat hul hele boedel nalaat aan organisasies wat niks met die evangelie te doen het nie. Dit maak my hartseer. Ek twyfel nie aan die goeie werk wat deur verskillende welsynsorganisasies of sosiale groepe of dierebeskermingsverenigings gedoen word nie, maar ek betwyfel die wysheid van ’n rentmeester van God wat God se werk nie eerste plaas nie. Dit is dalk nie ’n gewilde stelling nie, maar voordat jy dit verwerp, dink aan God, God se wil, God se mense, God se kerk en God se Koninkryk. Mense is belangriker as diere – die wêreld mag dalk nie saamstem nie, maar God se Woord is duidelik.
Wat kan ek aan 'n bediening nalaat?
Nadat jy jou boedel geëvalueer het en al jou bates gelys het, en nadat jy almal oorweeg het wat jy glo voordeel moet trek, moet jy nou besluit wat om aan wie na te laat.
Bedieninge het talle behoeftes en kan gewoonlik byna enige bate gebruik – solank jy bereid is om hulle toe te laat om die bate te verkoop of te verruil. Byvoorbeeld: Jy het dalk ’n seëlversameling wat jy aan iemand wil nalaat. ’n Bediening sal die versameling moet verkoop om die fondse wat ingesamel word te kan gebruik. Dit is ’n belangrike oorweging. As jy instruksies saam met jou erflating laat, maak seker dat hulle nie die bediening sodanig bind dat ’n bate ’n las word nie. As jy ’n eiendom nalaat met streng instruksies dat dit nie verkoop mag word nie, kan die instandhouding beteken dat die bediening in werklikheid slegter daaraan toe is as voor die erflating. Gee die bediening die vryheid om wys met ’n erflating te handel.
Jy kan kontant, eiendom, voertuie, aandele of enige ander bate aan ’n bediening nalaat. Jy wil dalk ’n persentasie van jou boedel of ’n spesifieke kontantbedrag nalaat.
Eiendom kan ’n groot seën wees vir ’n bediening. Dit kan as kantore, opleidingsfasiliteite of selfs behuising vir afgetrede personeel gebruik word. Eiendom kan ook verhuur word vir ’n gereelde inkomste.
Voordele
In die meeste lande is daar ’n aansienlike korting op boedelbelasting vir ’n nalatenskap aan ’n geregistreerde organisasie.
Wat moet ek doen om 'n bediening in my testament in te sluit?
Die proses is eintlik heel eenvoudig:
Sluit óf (a) jou bemaking in die hoofdeel van jou testament óf (b) ’n kodisil aan die einde in.
(a) As jy die bemaking in die hoofdeel van jou testament insluit, gebruik woorde soos …
Ek gee en bemaak my hele boedel …
OF
Ek gee en bemaak … (getal, bv. 20 persent) van my hele boedel …
OF
Ek gee en bemaak die restant en oorskot van my boedel …
OF
Ek gee en bemaak … (getal, bv. 20 persent) van die restant en oorskot van my boedel …
GEVOLG DEUR …
… aan Bibles for Believers te Posbus 3571, Kenmare, Suid-Afrika, 1752, en ek verklaar dat die kwitansie wat op gesag van die Raad uitgereik is ’n volle en voldoende ontslag vir my eksekuteur of trustee sal wees vir die genoemde verdeling en my eksekuteur of trustee sal nie verplig wees om toesig te hou oor die aanwendig daarvan nie.
OF
(b) As jy ’n kodisil gebruik, kan dit soos volg lyk...
’n Testament kan slegs voltooi word terwyl die individu by sy volle verstand is. Jy kan nie wag vir later nie. Nou is die beste tyd om ’n testament op te stel, want wanneer ’n testament nodig raak, is dit reeds te laat.
Wat die opstel van jou testament betref, stel ek voor dat jy ’n professionele persoon raadpleeg – óf ’n regsverteenwoordiger óf iemand wat as ’n finansiële adviseur gekwalifiseer en geregistreer is. Dit kan help as jou testament betwis word.
Alhoewel die voltooiing van ’n kodisil en die byvoeging daarvan by jou testament nie die dienste van ’n professionele persoon vereis nie, is dit steeds raadsaam om van so ’n diens gebruik te maak.
Jy moet die kodisil in die teenwoordigheid van twee getuies (wat nie een ’n begunstigde mag wees nie) onderteken. Hulle moet ook die kodisil onderteken en dateer. Die kodisil moet by jou testament aangeheg word en saam moet hulle op ’n veilige plek bewaar word.
Dit is nie nodig om die bediening van jou keuse in te lig dat jy hulle in jou testament ingesluit het nie, maar jy kan dit doen as jy wil.
Samevatting
Voorsiening vir God se werk in jou testament kan ’n groot invloed hê en hierdeur sal jy voortgaan om ’n verskil te maak selfs nadat jy huis toe is om by die Here te wees. Deur Bybels vir God se kinders te voorsien, sal jy help met die uitvoering van die Here se opdrag “Gaan en maak DISSIPELS van al die nasies”. Mag die Here jou seën terwyl jy sy wil vir jou boedel soek.
Terug na begin van hierdie artikel


